Staan die DA hoegenaamd 'n kans by die stembus?\n\nOf sal verkiesings in Suid-Afrika bloot 'n ras-sensus bly? Is swart kiesers se ongemak met die Demokratiese Alliansie 'n kwessie van beleid - of van toon?\n\nEusebius McKaiser is bekend daarvoor dat hy geen doekies omdraai nie. In hierdie vermaaklike, ietwat voor-op-die-wa en soms tong-in-die-kies boek, bekyk hy ons amptelike opposisie van naderby.\n\n\n\"Moenie vir hom suurstof gee nie. Hy jaag omstredenheid na. Narsissisme in extremis. Soek net aandag.\"\n- Helen Zille oor Eusebius McKaiser (Twitter, September 2013)\n\n\"Ek dink Helen Zille is 'n goeie leier.\"\n- McKaiser oor Zille ... maar hy sê ook:\n\n\"Zille is die verkeerde persoon om die Demokratiese Alliansie ná 2014 tot 'n oorwinning teen die ANC te lei.\"