Dit is die Eerste Wêreldoorlog. In ân Britse militêre hospitaal staan Susan Nell voor die deur van een van die private sale. Op die deur is ân enkele naam aangebring. Sy ken daardie naam. Sestien jaar tevore, in een van die Anglo-Boereoorlog se konsentrasiekampe, het daardie naam soos ân liddietbom in haar lewe gebars. Sy lig haar hand om die deur oop te maak, maar dit bewe so dat sy die knop nie vasgevat kry nie. Sy moet dit doen. Sy is ân psigiatriese verpleegster en dit is haar taak om getraumatiseerde soldate terug te bring na die lig. Maar as daardie soldaat die een is wat sestien jaar tevore met sy heupe alle lig uit jou gestamp het . . .? Susan Nell se hand word loodswaar. Iets soos ân warrelwind ruk deur haar. Sy wankel op die drumpel tussen lewe en dood. \n\nKamphoer is die ware verhaal van ân vrou wat gedurende die Anglo-Boereoorlog wreedaardig verkrag en vir die aasvoëls gegooi is. Met die hulp van ân reeks weldoeners ontsnap sy aan die kloue van die dood en wy sy uiteindelik haar lewe aan die genesing van presies die soort trauma waaraan sy onderworpe was. En in die proses word sy teruggestamp in ân bomkrater wat sy geglo het lank reeds toegegroei het en veilig bedek was.\n\nIn Kamphoer word die weerbarstigheid van die menslike gees opgeweeg teen die ewe blywende invloed van trauma. Dit is ân sielkundige riller wat jou tot op die laaste bladsy in sy yskoue greep sal hou.